NOORD-KAAP. – Chris Blaauw (19) is deur die Petrusville-streekhof, sittend op De Aar, tot 20 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir die moord op Deon Bezuidenhoudt (13). Blaauw het skuld beken op die aanklag van moord, wat op 25 Mei plaasgevind het.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring ‘n winkeleienaar het twee sakke 5 kg mieliemeel aan die beskuldigde toevertrou. Blaauw het die oorledene en sy vriende gevra om die items by sy huis af te lewer. Toe dit nie gebeur nie, het hy die kinders gaan opspoor en hulle later by ’n stortingsterrein ontmoet.
Die seun het uiteindelik beken dat hy die mieliemeel huis toe geneem het omdat sy familie kos nodig gehad het. Blaauw het hom daarna met ’n mes gesteek en die toneel verlaat, maar hy het sy ma van die voorval vertel. Nadat die seun nie teruggekeer het huis toe nie, is hy die volgende oggend deur sy vriende gevind.
Kagisho Phagana Marame, staatsaanklaer, het tydens vonnisoplegging ’n slagofferimpakverklaring van die oorledene se ouma oor trauma wat die familie ervaar het, uiteengesit. Die aanklaer het beklemtoon dat die kind weerloos was en ná die voorval alleen agtergelaat is.
Die hof het in ag geneem dat Blaauw ’n eerste oortreder is, nog jonk is en ’n skuldigpleit ingedien het. Hierdie faktore het die hof oortuig om van die voorgeskrewe lewenslange vonnis af te wyk en ’n termyn van 20 jaar se direkte gevangenisstraf op te lê.





