VRYSTAAT. – Drie jongmense, onderskeidelik 16, 18 en 19 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat ’n video van ’n 13-jarige seun wat glo ontklee is en verneder word, op sosiale media versprei het.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die voorval het oorspronklik in Oktober 2023 plaasgevind toe die seun na ’n kraal gestuur is om mis te gaan haal. Op pad huis toe het hy by ’n rivier gestop om sy voete skoon te maak toe vier ouer seuns hom na bewering ontklee en die video van hom geneem het. Die seun se ma het eers van die voorval gehoor toe die video op 13 Maart 2026 op sosiale media opgeduik het. ’n Saak rakende die verfilming en publikasie, en die bewuste skep, vervaardig, bydra tot of hulp verleen met enige film of fotografie wat uitbeeldings of misdade teen kinders insluit, word ondersoek.
Die drie verdagtes het in die Bethlehem-landdroshof voorgekom. Die 16-jarige is onder toesig van ’n ouer vrygelaat, terwyl die ander twee op borgtog vrygelaat is en steeds hofverskynings moet bywoon. Die polisie waarsku dat die verfilming, vervaardiging en verspreiding van video’s of foto’s van minderjariges onwettig is en teen wetgewing soos die Popi-wet kan wees.






