WES-KAAP. – Drie beamptes van die Stad Kaapstad is vir hul dapper optrede tydens drie afsonderlike voorvalle vereer, nadat hulle meer as hul plig gedoen het om mens en dier in nood te help.
Alderman JP Smith, burgemeesterskommiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het hulde gebring aan metro-polisiekonstabel Moeneeb Coetzee, LEAP-beampte Brent Williams en senior inspekteur Deirdre Thomas.
Coetzee het in Augustus ’n vrou, Micaela Katz, wat voortydig in kraam was, deur swaar verkeer na ’n hospitaal begelei waar sy geboorte aan ’n gesonde seuntjie geskenk het.
Williams het in September by Monwabisi-strand in die see ingehardloop om ’n jong seun wat besig was om te verdrink, te red. Hy het sy koeëlvaste baadjie uitgetrek en met sy diensstewels die water ingegaan en die seun veilig na die strand gebring.
Thomas het in Belhar stilgehou toe sy ’n hond in die pad sien lê het wat gelyk het asof hy dood is. Sy het die dier uit die pad verwyder en die DBV gekontak, maar die hond kon nie gered word nie.
Smith het gesê al drie beamptes het buitengewone moed tydens moeilike omstandighede getoon. “Hulle het eenvoudig ’n situasie gesien wat hul hulp vereis het en tot aksie oorgegaan,” het Smith gesê. Coetzee het tydens ’n verrassingsgeleentheid ook kans gekry om die babaseuntjie te ontmoet wat hy gehelp het om saam met sy ma betyds by die hospitaal te kry. Die ouers het gesê dokters het bevestig dat die vinnige optrede gehelp het om hul seun se lewe te red.
Die publiek kan die Stad Kaapstad se Openbare Noodkommunikasiesentrum in ’n noodgeval by 021 480 7700 skakel.

Daniel en Micaela Katz saam met konst. Moeneeb Coetzee