Brekende Nuus
Nuus

Kontant en seinversteurders ná diefstal van R449 000 gevind

Foto: SAPD

WES-KAAP. – Die polisie het ’n man (44) in Watergate in hegtenis geneem nadat ’n groot bedrag kontant en drie seinversteurders by ’n adres in Mockingbirdstraat gevind is. Dit volg nadat R449 000 Maandag 9 November uit ’n sakeman se voertuig in Sectionstraat in Paardeneiland gesteel is. Die sakeman van Maitland was op pad bank toe toe hy daar stilgehou het. Met sy terugkeer was die voertuig oop en die geld weg. Hy vermoed ’n seinversteurder is gebruik om te keer dat die voertuig sluit.

Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê die taakspan teen ekonomiese misdaad het inligting ontvang dat verdagtes die geld by die adres in Watergate verdeel. Die taakspan en die polisie-eenheid vir nagemaakte en onwettige goedere het die plek deursoek en op ‘n onbekende bedrag kontant en toestelle beslag gelê. 

Die man is op verdenking van die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem en sal in die Mitchells Plain-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.