GAUTENG. – Nege Zimbabwiese burgers het Maandag in die Kempton Park en Johannesburg-landdroshowe verskyn nadat hulle Sondag by die OR Tambo Internasionale Lughawe en ’n hotel in Bruma in hegtenis geneem is. Hulle wou Suid-Afrika na bewering verlaat om aan die Rusland-Oekraïne-oorlog deel te neem.
Al nege word van die oortreding van die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand aangekla. Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê ’n multidissiplinêre span het die nege ná ’n intelligensiegedrewe ondersoek in hegtenis geneem. Weight Mudhanyane (23), Javangwe Munyaradzi (41), Wesley Sothole (24), Abel Muchenje (40) en Knowledge Ndunduma (46) is by die lughawe in hegtenis geneem en het in Kempton Park verskyn. Bobo Chinhondo (43), Batsirai Shereni (24), Liberty Shereni (44) en Niobe Zhou (37) is by die hotel in Bruma in hegtenis geneem en het in Johannesburg voorgekom. Die sake is onderskeidelik tot 10 en 12 November uitgestel sodat die beskuldigdes regsverteenwoordiging kan kry.
Al nege is ná hul hofverskynings steeds in aanhouding.