GAUTENG. – Mahanye Tisetso (20), Ernest Lehopo Mohloki (19) en Kagiso Phoofolo (20) is elk tot lewenslange gevangenisstraf vir die moord op Lerato Nchabeleng (18) buite Hoërskool Reasoma gevonnis. Elkeen is ook tot 15 jaar gevangenisstraf op elk van twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede gevonnis.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê ‘n vierde beskuldigde, wat 17 jaar oud was toe die misdade gepleeg is, is ook skuldig bevind. Weens sy ouderdom het die hof van die voorgeskrewe minimum vonnis afgewyk en hom tot twee jaar verpligte verblyf in ‘n kinder-en-jeugsorgsentrum, tesame met ‘n effektiewe 16 jaar gevangenisstraf vir moord en roof met verswarende omstandighede gevonnis.
Die hof het gehoor dat Nchabeleng op 12 Februarie 2024 saam met ‘n vriend op die skoolterrein was toe een van die beskuldigdes, wat ook sy klasmaat was, hom aan die ander beskuldigdes buite die skoolhek uitgewys het. Die groep het hom gekonfronteer en sy selfoon geëis. Toe hy weier om dit te gee, is hy herhaaldelik met messe gesteek voordat sy pet ook gesteel is. ‘n Onderwyser het hom na ‘n hospitaal geneem waar hy met sy aankoms dood verklaar is. Nadat hulle van die toneel gevlug het, is die beskuldigdes na Mapetla Park, waar hulle nog ‘n slagoffer met ‘n mes gedreig en van sy selfoon beroof het. Twee van die beskuldigdes het later na QwaQwa gevlug, waar hulle ná inligting van die publiek deur die polisie in hegtenis geneem is. Die ander twee is in Gauteng aangekeer.
Volgens die NVG het die staat tydens vonnisverrigtinge aangevoer dat die misdade uiters ernstig was en dat swaar tronkstraf nodig is om soortgelyke geweldsmisdade af te skrik en die gemeenskap te beskerm. Die hof het bevind die moord was sinneloos en wreed en dat die belange van die gemeenskap, vergelding en afskrikking swaarder weeg as die persoonlike omstandighede van die oortreders.
Die NVG het die vonnisse verwelkom en gesê dit beklemtoon die erns van geweldsmisdade teen leerlinge en bevestig die strafregstelsel se verbintenis om gewelddadige misdadigers aanspreeklik te hou.





