NOORD-KAAP. – Mike Gombi (31), Alex Massango (31) en Simon Chioze (31), Mosambiekse burgers, is onlangs in die Douglas-streekhof tussen 25 tot 27 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir ’n gewelddadige plaasaanval op die Alberts-egpaar tussen Douglas en Campbell in Julie 2021. ’n Vierde beskuldigde, Thulani Ngwenya, is vrygespreek.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê die Alberts-egpaar is op hulle plaas Rawston oorval en beroof. Albert Alberts is met ‘n panga aangeval en met ‘n vuurwapen gedreig voordat hy die huis inforseer is. Denise Alberts is in die huis oorval. Die aanvallers het die egpaar aangerand, vasgebind en geld en vuurwapens geëis.
Toe die beskuldigdes nie kon kry wat hulle wou hê nie, het die aanval meer gewelddadig geraak, waartydens die slagoffers onder meer met die panga gekap is en hulle hande in ‘n warm oond gebrand is. Die egpaar is later in hulle voertuig ontvoer en gedwing om elektroniese oorbetalings te maak en geld by ’n OTM te trek. Hulle is in die veld agtergelaat toe die voertuig by Graspan sonder brandstof gaan staan het, maar kon later hulp kry.
Die hof het sterk bewysstukke aangehoor, insluitend forensiese en selfoondata, wat die beskuldigdes aan die misdaad verbind het. Slagoffer-impakverklarings het die langdurige emosionele en fisiese gevolge vir die egpaar beklemtoon. Die erns van plaasaanvalle is benadruk en dat streng vonnisse noodsaaklik is om veiligheid in landelike gemeenskappe te handhaaf.
Direkte gevangenisstraf is vir roof met verswarende omstandighede en ontvoering aan die beskuldigdes opgelê. Chioze is ook vir oortreding van die immigrasiewet gevonnis. Gombi is tot 25 jaar, Massango tot 24 jaar en Chioze tot 27 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Die NVG het die vonnis verwelkom.





