Altesaam 39 mense is in Suid-Afrika in hegtenis geneem as deel van ’n internasionale operasie teen Wes-Afrikaanse georganiseerde misdaadnetwerke wat onder meer met romanse- en beleggingsbedrog verbind word.
Volgens Interpol het Operasie Jackal IV, wat van November 2025 tot Junie 2026 geduur het, tot 58 inhegtenisnemings wêreldwyd en die identifisering van 263 verdagtes gelei. Die operasie het 22 lande oor ses kontinente betrek.
In Suid-Afrika het owerhede sewe persele in Johannesburg deursoek wat volgens Interpol verbind word met ’n sindikaat wat romanse- en beleggingsbedrog op afgetredenes in Engelssprekende lande gemik het. Interpol bevestig daar is op US$2,67 miljoen beslag gelê, 257 bankrekeninge is geblokkeer en 39 mense is in hegtenis geneem.
Die ondersoek het ook ’n toename in seksafpersing aan die lig gebring. Volgens Interpol word minderjariges, met slagoffers so jonk as 14 jaar, deur sommige van die misdaadgroepe op sosiale media geteiken.
Die oortreders bou volgens Interpol vertroue met slagoffers voordat hulle eksplisiete foto’s of video’s bekom en daarna dreig om dit te versprei indien ’n losprys nie betaal word nie. Interpol sê sommige van die groepe gebruik ook sogenaamde Crime-as-a-Service, waar eksterne diensverskaffers, onder meer deur die donker web, vir geldwassery en ander misdaadaktiwiteite aangewend word.
Druk hier om meer te lees.

