GAUTENG. – ‘n Derde verdagte het haarself Maandag by die Edenvale-polisiekantoor oorgegee in verband met die beweerde diefstal van edelstene. Die beskuldigdes in die saak sluit ‘n sakeman en wetstoepassingsbeamptes in.
Lizzy Suping, woordvoerder vir die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), sê die vrou sal vandag vir die eerste keer in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Drie verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem. Twee van hulle het Maandag in die hof voorgekom, waar die saak tot 16 Julie vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel is.
Volgens Opod word verwag dat die oorblywende twee verdagtes binnekort ook in hegtenis geneem sal word.





