Brekende Nuus
Nuus

4 in hof ná beweerde verkragting van e-taxibestuurder

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Die saak teen drie mans en twee vroue wat na bewering betrokke was by die ontvoering en verkragting van ’n 25-jarige e-taxibestuurder, is in die Wynberg-landdroshof aangehoor. Een van die beskuldigdes is ‘n minderjarige.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die minderjarige se saak is op 15 September aangehoor, nadat daar probleme met die teenwoordigheid van sy voog was. Hy sal nou op 21 September saam met die ander verdagtes in die hof verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. ’n 23-jarige vrou en ’n 34-jarige vrou, word saam met die tiener van verkragting, roof met verswarende omstandighede, afpersing en ontvoering aangekla.

Die vyf is in hegtenis geneem nadat die bestuurder na bewering Saterdag deur die groep ontvoer is. Volgens die polisie het die verdagtes glo R4 000 vir sy vrylating geëis. Hy is later deur middel van sy voertuig se opsporingstelsel in Southamptonweg, Heathfield, deur die polisie opgespoor. Die polisie het gesê die bestuurder het een van die vroue deur sy werk ontmoet en hulle het ooreengekom om Saterdag te ontmoet.