MPUMALANGA. – Vier polisielede het Maandag in die Evander-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde ontvoering ná ’n ondersoek deur die Valke wat sedert Januarie aan die gang is.
Volgens lt.kol. Magonseni Nkosi, woordvoerder van die Valke, het konst. Thabo Mnisi (23), sers.Siyabonga Mbonani (32), sers. Modishe Mokabane (46) en konst. Sifiso Mazibuko (41), wat met roetinedienste besig was, glo ’n vragmotor naby die N17-tolplaza gestop en deursoek. Die vragmotor was van Piet Retief na Springs onderweg.
Volgens die buitelandse passasier in die vragmotor wat ‘n saamrygeleentheid gebied is, is selfone, R3 500 en ’n katalitiese omsitter geneem. Die passasier en die bestuurder is volgens die verklaring in aparte polisievoertuie weggery. Die voertuig waarin die bestuurder was, het glo omgedraai, maar die passasier is in ‘n afgeleë gebied afgelaai. Hy het na ‘n verligte pad gestap en later hulp gekry, waarna hy ‘n klagte by die Leslie-polisiekantoor gelê het. Die Valke het die ondersoek oorgeneem, waarna die verdagte polisielede op 17 November aangekla is.
Die saak is tot 2 Februarie 2026 uitgestel.





