GAUTENG. – Vier vermeende rowers is Woensdag dood en twee ander is in hegtenis geneem ná ’n skietery met die polisie in Soweto.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê inligting is ontvang oor ’n beplande gewapende roof by ’n onderneming in Kwezi, Mofolo. Lede van die taktiese operasiebestuurseenheid (TOMS), saam met Badboyz-veiligheidsmaatkappy en die Gautengse hoofwegpatrollie, het onmiddellik ondersoek ingestel. Die polisie het die verdagtes se voertuie naby die teiken opgespoor. Toe die verdagtes agterkom hulle word dopgehou, het hulle in twee voertuie gevlug. Dit het gelei tot ’n hoëspoedjaagtog wat in ’n skietery geëindig het.
Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting van sakeroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens aangekla word.
Die polisie is steeds op soek na ’n sewende verdagte wat tydens die jaagtog te voet gevlug het.





