KAAPSTAD – ’n 41-jarige veroordeelde dwelmhandelaar, Stanislav Stamenov, is Vrydagoggend by sy huis deur die SAPD se Nasionale Intervensie-eenheid (NIU) in Kaapstad in hegtenis geneem.
Luidens ‘n persverklaring uitgereik deur die SA Polisiediens (SAPD), is die Bulgaarse burger, Stanislav Stamenov, in 2009 in Roemenië tot 16 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het egter kort daarna uit die land gevlug waarna hy op ’n Interpol-rooilys geplaas was.
Stamenov was deel van ’n groot georganiseerde misdaadgroep wat betrokke was by die smokkel van heroïen na Roemenië. Volgens verslae skuil hy al vir jare in Kaapstad. Stamenov het as ’n gimnasium-instrukteur by ‘n Virgin Active-gimnasium in Kaapstad gewerk. Die gimnasiumgroep het Stamenov intussen geskors en sy kontrak beëindig.
Hy word aangehou ná sy inhegtenisneming deur die NIU Vrydagoggend. Hy sal Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn in verband met sy uitleweringsaak.
Bron: SAPS https://www.saps.gov.za/





