Die vinnige optrede van ‘n groep wetstoepassers het onlangs ‘n vyfjarige meisie tydens ‘n motorkaping in Blue Downs gered.
Volgens ’n sosialemediaplasing deur JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit vir Stad Kaapstad, was dit die uitstekende werk van wetstoepassers wat die kind gered het.
Smith het vroeër die week met die familie van die klein Fatiyolgena Handino vergader. Sy en haar pa is op 21 Mei omstreek 09:00 met hulle aankoms by die huis met ’n vuurwapen aangehou. Die verdagte het met die kind weggery nadat hy die pa uit die motor verwyder het.
Beampte Chimoney Abrahams en haar kollegas het toevallig by die huis verbygery toe die histeriese pa hulle voorkeer. Beamptes het die verdagte onmiddellik agternagesit en versterkings ontbied.
Nadat die verdagte die kind langs die pad gelos en in ‘n nabygeleë bos ingevlug het, het beampte Abrahams die 32-jarige man opgespoor. Volgens Smith se plasing was die man besig om sy klere uit te trek om sy identiteit te verbloem. Hy is in hegtenis geneem en aan die SAPD oorhandig.
Die res van die span en lede van die gemeenskap het vir Fatiya veilig opgespoor en met haar familie herenig. Tydens ‘n besoek aan Smith se kantoor het die familie en die Wetstoepassingsbestuurspan sertifikate van waardering aan die betrokke beamptes oorhandig.
“Dit was hartverblydend om die familie se dankbaarheid te sien. Hierdie beamptes se dapperheid en vinnige optrede is ‘n bewys van die waardes wat ons in die Direktoraat vir Veiligheid en Sekuriteit koester,” sluit Smith sy plasing af.
Bron: JP Smith Facebook





