Brekende Nuus
Nuus

Malmesbury-tiener geskik bevind om verhoor te word

Foto: SAPD

WES-KAAP. – ’n 16-jarige seun van Malmesbury wat in verband met ’n ernstige saak aangekla word, is geskik bevind om verhoor te word nadat hy vir 30 dae by Valkenberg- psigiatriese hospitaal vir waarneming opgeneem is. Die seun is vermoedelik aan ‘n internasionale kindermisbruiknetwerk gekoppel.

Hy het voorheen op aanklagte, waaronder seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van kinders en die verspreiding en besit van kinderpornografie, in die Malmesbury-landdroshof voorgekom. Toestelle waarop eksplisiete beelde en video’s gevind is, is tydens die polisie-ondersoek gekonfiskeer.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die saak het Dinsdag in die Malmesbury-landdroshof gedien vir terugvoering oor die assessering en die finalisering van die waarnemings. Volgens die mediese verslag ly die tiener nie aan ’n geestesongesteldheid of intellektuele gestremdheid nie en is hy geskik om verhoor te word en die hofverrigtinge te volg. Die saak is tot 15 Oktober uitgestel wanneer die borgtogaansoek sal voortgaan.