Brekende Nuus
Nuus

Trump keur vuurpeloton vir terdoodveroordeelde goed

Foto: Wikimedia Commons

VSA. – Die Amerikaanse president Donald Trump het die teregstelling van die voormalige Amerikaanse weermagmajoor, Nidal Malik Hasan, deur ’n vuurpeloton goedgekeur. Hasan is in 2013 ter dood veroordeel vir die 2009-skietery by Fort Hood in Texas waarin 13 mense dood en meer as 30 gewond is. Die besluit kom dae nadat ’n poging om Christa Pike deur middel van ’n dodelike inspuiting tereg te stel, misluk het.

Die Amerikaanse weermag het nie sedert 1961 ’n teregstelling uitgevoer nie. Indien Hasan se teregstelling voortgaan, sal dit die eerste militêre teregstelling in meer as 60 jaar wees. Sean Parnell, die Pentagon-woordvoerder, het aangekondig dat die besluit gevolg het op ’n aanbeveling deur Pete Hegseth, Amerikaanse minister van verdediging. Die sekretaris van die weermag sal die datum en plek van die teregstelling bepaal. 

Hasan, ’n voormalige weermagpsigiater, is ná die aanval skuldig bevind aan 13 aanklagte van moord en 32 aanklagte van poging tot moord. Hy is tans op die militêre dodestraflys in die Fort Leavenworth-gevangenis in Kansas. Hasan het tydens sy verhoor erken dat hy die skieter was en gesê hy het opgetree om Amerikaanse soldate te keer om na Afghanistan te gaan en daar teen Moslems te gaan veg. Die aanval het op 5 November 2009 by die militêre basis plaasgevind.

Pike het twee dosisse van die dodelike middel ontvang, maar het oorleef en is na ’n hospitaal geneem. Tennessee se goewerneur, Bill Lee, het daarna die res van die staat se beplande teregstellings vir vanjaar opgeskort en ’n onafhanklike ondersoek gelas.

Bronne: Associated Press, CBS News, ITV News