VSA. – Christa Pike (50), die Amerikaanse terdoodveroordeelde wie se teregstelling verlede week in Tennessee misluk het, het volgens haar regsverteenwoordigers haar bewussyn herwin en kan weer praat. Pike ontvang steeds behandeling in ’n hospitaal nadat twee dosisse van die dodelike middel pentobarbital onsuksesvol op 30 September aan haar toegedien is.
Haar prokureurs sê haar toestand bly onseker en dat sy waarskynlik deur ’n lang herstel in die gesig gestaar word. Pike se arms het ernstige skade, waaronder brandwonde en blase, opgedoen tydens die teregstelpoging. Hulle voer aan dat daar moontlik ’n probleem met die binneaarse lyne was en dat die middel nie behoorlik in haar bloedstroom beland het nie.
Die Tennessee-departement van korrektiewe dienste het ná die mislukte teregstelling gesê die staat se gevestigde protokol is gevolg en dat Pike na ’n mediese fasiliteit vervoer is. Pike se prokureurs het intussen ’n hofbevel aangevra om bewyse oor die teregstellingspoging, waaronder medisynebesonderhede, rekords en ander dokumentasie, te bewaar. ’n Hofverhoor is vir Woensdag geskeduleer. Hulle vra ook dat Tennessee se goewerneur, Bill Lee, haar doodvonnis na lewenslange gevangenisstraf sonder die moontlikheid van parool verander.
Lee het ná die voorval ’n onafhanklike ondersoek gelas en die ander geskeduleerde teregstelling in Tennessee vir vanjaar uitgestel. Die hoof van die korrektiewe dienste het ook aangekondig dat hy sy pos gaan verlaat.
Pike is in 1996 ter dood veroordeel vir die moord op die 19-jarige Colleen Slemmer die vorige jaar. Sy was 18 jaar oud toe Slemmer vermoor is. Volgens Associated Press is Pike vermoedelik die eerste persoon wat in die VSA ’n volledige teregstellingspoging met dodelike inspuitings oorleef het.
President Trump het ná die mislukking goedkeuring gegee dat die teregstelling van Nidal Malik Hasan deur ‘n vuurpeloton uitgevoer word.
Bronne: Tenessee Department of Correction, Associated Press, CBS News