MPUMALANGA. – Vyf mans is Donderdagaand in ‘n kop-aan-kop-botsing tussen ‘n ligte motorvoertuig en ‘n sportnutsvoertuig (SUV) op die P97 tussen Perdekop en Amersfoort dood. Nog vier persone het ernstige beserings opgedoen en word in ‘n hospitaal behandel. Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek, hoewel roekelose en nalatige bestuur nie uitgesluit word nie.
Moeti Mmusi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, Jackie Macie, doen ‘n beroep op alle padgebruikers om verantwoordelik te bestuur en boodskappe oor padveiligheid ernstig op te neem om onnodige lewensverlies te voorkom. Macie het gesê roekelose bestuur moet streng aangespreek word om die aantal noodlottige botsings te verminder. Hy het ook sy medelye met die families van die oorledenes uitgespreek en die beseerdes ‘n spoedige herstel toegewens.




