NOORDWES. – Ses verdagtes, tussen 35 en 67 jaar oud, het in verband met poging tot moord, poging tot huisroof en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisiee in die Swartruggens-landdroshof verskyn. Die saak volg op ’n gewelddadige aanval op ’n plaas in die Lindleyspoort-gebied op 3 Februarie.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê vyf van die verdagtes het Donderdag voorgekom, terwyl die sesde verdagte Vrydag in die hof verskyn het. Buti Joseph Seqele (47), Nkosinathi Thembinkosi Mduli (41), Jankie Nnebe (44) van Mosambiek, Locus Samuel Masiane (46), Sibusiso Vusi Tembe (35) en Zolile Nicholas Nkomane (67) sal weer op 11 Februarie voor die hof verskyn.
Gewapende verdagtes het Dinsdagoggend vroeg die plaashuis binnegegaan terwyl die gesin, ‘n egpaar en twee tienerseuns, geslaap het. Hulle het geld geëis en skote is afgevuur, maar kon met geen gesteelde besittings wegkom nie. Die man het beserings opgedoen in die proses om hom en sy gesin te verdedig.
Vinnige reaksie deur die polisie, in samewerking met boere, plaaswagte en ander eenhede soos die K9-span en misdaadintelligensie, het gelei tot die opsporing en inhegtenisneming van al ses verdagtes. Die eerste twee verdagtes is met die hulp van ‘n hommeltuig vasgetrek waar hulle in nabygeleë bosse weggekruip het. Inligting oor ‘n voertuig wat glo tydens die pleeg van die misdaad gebruik is, het tot die inhegtenisneming van die derde verdagte naby aan Boons gelei. Nog twee verdagtes is in Koster opgespoor waar ‘n vuurwapen en ammunisie, wat glo tydens die aanval gebruik, gevind is. Dit sal forensies ontleed word. Woensdag is die laaste verdagte in Carletonville opgespoor en in hegtenis geneem.
Die samewerking tussen die polisie en plaasgemeenskap is deur genl.maj. Ryno Naidoo geprys.
Die polisie sê enigiemand wat voorvalle van afpersing ervaar, kan dit by die afpersingslyn by 080 091 1011 aanmeld.





