VRYSTAAT. – Minstens ses mense is dood en 21 beseer toe ‘n sedan en ‘n 22-sitplek-minibustaxi Saterdag kort voor middernag in ‘n ongeluk van die kant af (T-bone) op die R26 buite Mashaeng, naby Fouriesburg, betrokke was.
Luidens ‘n verklaring van AO Mmako Mophiring het die 21-jarige bestuurder van ’n wit Kia-sedan, wat van Mashaeng in die rigting van Fouriesburg gery het, na bewering nie by ’n kruising stilgehou nie en met ’n wit Mercedes-Benz-minibustaxi gebots wat van Ficksburg na Pretoria onderweg was.
Drie van die vyf insittendes in die sedan en die taxibestuurder, asook twee passasiers is op die toneel dood verklaar. Twee insittendes van die sedan en 19 taxi-insittendes is met beserings na hospitale in Bethlehem en Bohlokong vervoer.
Nooddienste en wetstoepassers het deur die nag op die toneel gewerk. ’n Saak van strafbare manslag is vir ondersoek geopen.





