Wanneer laas het jy ’n boek of ’n lywige artikel gelees? Dit is belangrik dat ’n mens lees. Nie net omdat dit so baie voordele inhou nie, maar ook sodat ons pragtige taal kan voortleef. Hier, in Taalmaand, is ’n lys van 7 Afrikaanse boeke wat jy móét lees.
1. Kringe in ’n Bos – deur Dalene Matthee
Kringe in ’n Bos is sekerlik bekroonde skywer Dalene Matthee se bekendste boek. As jy nie destyds hierdie treffer op skool gelees het nie, is dit nou jou kans. Die boek gaan oor ’n houtkapper en ’n olifantbul, en die vreemde band tussen hulle. Saam loop hulle kringe deur die Outeniekwa, op soek na die waarheid wat die houtkapper, Saul, se lewe vir altyd sal verander.
2. Fiela se Kind – deur Dalene Matthee
Nóg ’n Dalene Matthee-boek wat jy nie kan oorslaan nie. Fiela se kind speel af in die Langkloof en is die storie van Fiela Komotie en haar vondelingskind, Benjamin. Soos die verhaal afspeel, begin die leser wonder – kan Benjamin die verlore kind van die Van Rooyens wees?
3. Byleveld: Dossier van ’n Baasspeurder – deur Hanlie Retief
Hierdie boek is gebaseer op die interessante ware verhaal van speurder Piet Byleveld se lewe en loopbaan. Hy is die man wat van Suid-Afrika se bekendste misdade opgelos het. Byleveld het sy dossiere beskikbaar gestel aan die skrywer, en lesers kry dus ’n kykie na van die mees berugte moordgevalle wat hy opgelos het.
4. Stiltetyd – deur Marita van der Vyver
In Stiltetyd verloor ’n gesin hul jongste kind kort voor hulle na Frankryk vertrek. Die storie kyk na hoe elkeen in die huisgesin daarmee worstel, maar veral die ma se ongeneeslike hartseer en haar soeke na haarself.
5. Dis Ek, Anna – deur Elbie Lötter
Dié boek is ook gebaseer op ’n ware verhaal en die skrywer skryf onder ’n skuilnaam. Die hoofkarakter Anna kon aan niemand vertel van dit wat tussen haar en haar stiefpa gebeur het nie. Dit is eers jare later wat sy dit kan uitskryf en probeer oorkom.
6. Fees van die Ongenooides – deur P.G. du Plessis
In hierdie boek kan jy verlore raak in die wel en wee van ‘n uitgebreide Vrystaatste familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog. Elke karakter se storie word met oorgawe vertel, en hierdie is ’n boek wat geen geskiedenis- of taalliefhebber moet misloop nie.
7. Dis Koue Kos, Skat – deur Marita van der Vyver
Dis Koue Kos, Skat is die briewe van ’n vrou, Clara, wie se man haar verlaat vir een van haar beste vriendinne. Die briewe lê die onderskeie fases van Clara se herstelproses bloot: haar woede, aanvaarding, nuwe vryheid en voortdurende poging om haar kinders “normaal” groot te maak.
Gryp hierdie naweek ’n boek of twee en begin lees. Hoekom dan nou nie? Voordele sluit in ’n groter woordeskat, stresverligting, ’n beter geheue, en vele meer. Lekker lees!