Brekende Nuus
Misdaad

75-jarige man in huisroof op gasteplaas aangerand

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – ’n 75-jarige man is tydens ’n huisroof in ‘n selfsorgkothuis op ‘n gasteplaas buite Wolseley aangerand. Die voorval het op 30 Augustus kort ná 23:00 plaasgevind.

Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die Wolseley-polisie het ’n huisroof vir ondersoek geregistreer. Volgens die 66-jarige klaer het sy en haar man in ’n kothuis geslaap toe hulle deur ’n harde geluid wakker geword het. Vier onbekende mans, wat vermomming gedra het, het die deur se slot gebreek en die kothuis binnegegaan. Die egpaar is met ’n handdoek vasgebind en die man is aangerand. Hy het verskeie kop- en bolyfbeserings opgedoen en is vir behandeling na ’n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer. Die vrou het geen sigbare beserings opgedoen nie.

Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om speur.sers. CD Abrahams by 079 894 0195 te bel.