GAUTENG. – Altesaam 90 ongedokumenteerde Ethiopiërs is deur die polisie se spesiale taakmag van ‘n beweerde mensehandelsindikaat in Sunnydale Ridge in Johannesburg gered.
Brig. Athlenda Mathe sê die Ethiopiërs is klaarblyklik teen hulle wil in onmenslike omstandighede aangehou.
Mathe sê daar is op die opgesluite slagoffers in kamers afgekom toe ‘n ontvoeringslagoffer, vir wie ‘n losprys van sy familie geëis is, se spoor gevolg is.
Die Valke stel tans ondersoek in om vas te stel hoe die Ethiopiërs die land binnegekom het. Al die slagoffers is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Die ontvoerde persoon wat Dinsdagmiddag in Benoni ontvoer is, is ook gered.
Twee verdagtes is op die perseel in hegtenis geneem en sal binnekort op aanklagte van mensehandel in die Palm Ridge-landdroshof voorkom.







