Khanyisile Viola Nyalunga (29), ‘n vroulike verkeersbeampte van Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga, het op Maandag 31 Julie 2023 in die Hazyview-landdroshof verskyn vir beweerde misdade wat poging tot moord, die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig en die sameswering om ‘n transitorooftog te pleeg, insluit.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder vir die Valke se prioriteitsmisdaadondersoeke, sê Nyalunga bly na haar eerste hofverskyning in aanhouding.
Nyalungu is op Vrydag 28 Julie 2023 deur verskeie polisie-eenhede in Nelspruit in hegtenis geneem na ‘n mislukte transitorooftog in Hazyview.
‘n Gepantserde voertuig van Fidelity-sekuriteitsmaatskappy het op Donderdag 27 Julie 2023 van Witrivier na Hazyview gery. Die voertuig is deur ‘n TSU-sekuriteitsvoertuig begelei.
Na bewering het ‘n grys Mercedes-Benz-sedan op die Witrivier/Hazyview-aansluiting in die voertuig, wat regs gedraai het, vasgery. Nadat die verdagtes glo dadelik begin skiet het, moes die beseerde sekuriteitswagte vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem word.
TSU het op die toneel opgedaag en glo teruggeskiet.
Volgens inligting het die verdagtes met drie ander voertuie van die toneel gevlug.
Volgens getuies is Nuyalunga se voertuig gesien waar dit die verdagte en vuurwapens wat tydens die mislukte roof gebruik was, vervoer het.
‘n Span ondersoekers het inligting opgevolg en die gesteelde voertuie wat op die misdaadtoneel gebruik was in Nyalungu se erf geparkeer gevind. Sy is in hegtenis geneem en beslag is op die voertuie gelê.
Voorlopige ondersoek dui aan dat die voertuie wel gesteel is. Die silwer Mercedes-Benz ML 250 was gedurende Junie 2023 te Mhala in Mpumalanga gesteel en die Mercedes-Benz C klas-sedan is gedurende Februarie 2021 te Vosloorus gesteel.
Die verdagte is aangekla vir samewering om ‘n misdaad te pleeg, genaamd roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die besit van die gesteelde voertuie.
Die saak is tot vandag vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel.
Maj.genl. Gerber, die provinsiale hoof, het die span geprys: “The Mpumalanga DPCI has worked tirelessly, night and day to follow up leads. This is one of many success stories”.
Die gemeenskap word versoek om inligting oor transitorooftogte in vertroulikheid met die Valke te deel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





