Seismiese opname aan Suidkus goedgekeur

Lees ook :

Die voorgestelde opname-area Foto: CGG

Die departement van minerale hulpbronne en energie het op 16 November omgewingsmagtiging aan die CGG-maatskappy toegestaan. Magtiging sluit ’n basiese assesseringsproses vir ’n voorgestelde 3D-seismiese opname aan die Suidkus van Suid-Afrika in.

CGG is ’n geowetenskap-en tegnologie-maatskappy wat in die oplossing van uitdagings rakende natuurlike hulpbronne, die omgewing en infrastruktuurprobleme spesialiseer.

Hulle beplan om vanaf Januarie 2024 ’n spekulatiewe opname in die Algoa/Outeniqua-kom wat tussen Gqeberha en Plettenbergbaai strek, te doen. ’n Area van 12 750 vierkante kilometer word by die beplande opname-area ingesluit. Grense wissel tussen 45 tot 120 km vanaf die kusgebied.

Volgens SLR Consulting, wat namens CGG optree, gaan die opname help om ’n beter begrip van die omvang, aard en ekonomiese lewensvatbaarheid van inheemse gashulpbronne te ontwikkel. Aardgas is ingesluit in die lys van energiebronne wat sal voorkom dat Suid-Afrika merendeels op fossielbrandstowwe staatmaak.

Die opname-area strek reg rondom die Port-Elizabeth-koraal-marine-beskermingsgebied, maar daar gaan egter ’n 2 km buffersone rondom die beskermingsgebied wees waar geen opname-aktiwiteite mag plaasvind nie.

’n Volledige omgewingsimpakstudie is uitgevoer waarna ’n aantal waarskuwings uitgelig is. CGG moes op aanbeveling die beplande opname-area verklein omdat dit met kommersiële treilvisvangs sou inmeng.

Moontlike slagoffers van direkte negatiewe impakte sluit, dolfyne, walvisse, kingklip en seeskilpaaie in. Daar is bevind dat seediere direkte fisiese beserings aan hulle gehoor- en ander organe kan opdoen. Hulle gedragspatrone kan verander en gevolglik kan hulle verplaas word vanuit hulle broei- en voedingsareas.

CGG lê klem daarop dat die eksplorasie net vyf maande gaan duur. Afvalstowwe wat in klein volumes in die see vrygestel gaan word, sal ook as voedingsbron vir die seelewe kan dien.

Nie almal is egter optimisties oor die opname-vooruitsigte nie. Ekodigter, Susan Smith, het haarself as volg op haar Facebook-profiel uitgelaat:

“Seismiese waterkanonne word gemonteer op skepe (50 per skip) wat elke 3 tot 6 sekondes, 24 uur per dag, vir 5 maande deurlopend ontploffings afvuur in die water om na te gaan hoe die klankgolwe reflekeer, waardeur die struktuur van die aardkors op die oseaanvloer ondersoek kan word. Die klankgolwe is tot 260 desibels. (Mense se oordromme bars tipies op 160 dB.) ‘n Volume van 130 dB deur lug is die ekwivalent daarvan om voor ‘n jetenjin te staan tydens opstyging.”   

Volgens haar sal hierdie tipe aanslae voortduur en geskied dit gewoonlik onder die radar.

Gletwyn Rubidge, ’n doktor in analitiese chemie aan die Universiteit van Port-Elizabeth, het mense ook aangeraai om appèl aan te teken. Hy is veral gekant teen die opname omdat daar so baie spesies gedurende daardie tyd in die area gaan wees.

Indien jy wil appèl aanteken, kan jy die volgende skakel besoek en die instruksies akkuraat volg. Appèlaansoeke sluit op 13 Desember.

https://www.slrconsulting.com/public-documents/cgg-algoa/

’n Petisie is ook op Change.org begin:

https://www.change.org/p/stop-the-exploratory-seismic-survey-from-plett-to-pe-gq-starting-jan-2024?fbclid=IwAR14Gy0818DR5pPTpeP_wloAwmb0QY9P9CpD22W8O_9hlMuhkH9aG2Sojlg

Bronne: SLR Consulting, Change.org, Facebook

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief