MPUMALANGA. – Lufano Ashley Rambani (44), wat by die departement van hoër onderwys werk, het Dinsdag op aanklagte van korrupsie in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Dit volg nadat die Valke hom Maandag in Pretoria in hegtenis geneem het. Daar is deur die valke onthul dat Rambani nie die korrekte sisteme en prosedures gevolg het met die uitreiking van ’n diplomasertifikaat vir die klaer nie.
Na bewering is Rambani in Junie vanjaar deur sy vriend, dr. Frank Machava (40), wat by binnelandse sake se immigrasie-afdeling betrokke is, genader om ’n diplomasertifikaat vir sy vrou te bekom. Sy vrou het sonder sukses vir so ’n sertifikaat aansoek gedoen.
Rambani het ingestem om te help omdat hy glo iemand geken het wat die proses kon help bespoedig. Die klaer het onraad vermoed toe hy deur Rambani aangesê is om ’n fooi van R3 500 te betaal. Dit was vreemd omdat sy vrou regmatiglik studies vir die diploma voltooi het.
’n Lokval is vir die beskuldigde gestel tydens die oorhandiging van die sertifikaat. Rambani is op borgtog van R5 000 vrygelaat en verskyn weer op 19 Januarie 2024 in die hof.
Bronne: SAPD, Twitter





