BRANDVLEI, NOORD-KAAP. – ’n Deurbraak is in die ondersoek na die moord op Hesty-Ann Green gemaak. Shuprhen Ouers (19) is Maandag by sy werksplek in Kaapstad in hegtenis geneem.
Hesty-Ann Green (18) se naakte liggaam is op Sondag 31 Desember 2023 in ’n vervalle gebou naby die sportterrein waar sy die Saterdagaand ’n danspartytjie bygewoon het, gevind. Haar liggaam was onder stene en stukke plafon versteek.
Volgens Nikolas Swartz, haar oom, is die formele nadoodse ondersoekverslag nog nie aan hulle bekend gemaak nie. ’n Betroubare bron het hom egter ingelig dat dit wil voorkom of sy na bewering nie verkrag is nie.
Ooggetuies by die partytjie het die ondersoekspan ingelig dat hulle gesien het hoe Ouers homself vroeër die Saterdagaand aan die slagoffer opgedring het. Swartz vertel ander partytjiegangers het Sondagoggend bloed op sy skoene opgemerk.
“Die jongeling was die Sondagoggend ook by die moordtoneel toe Hesty-Ann se liggaam ontdek is. Hy was deel van die skare,” sê Swartz.
Green het glo altyd ’n messie by haar gedra. Volgens Swartz het omstanders vertel dat die verdagte die Sondagoggend ’n sny agter sy kop gehad het. “Ek is seker sy het terugbaklei.”
Volgens inligting het Ouers die Maandag nadat haar liggaam ontdek is, na Kaapstad teruggekeer en is Maandag by sy werksplek in Kaapstad in hegtenis geneem. Hy is na Brandvlei vir aanhouding geneem.
Lede van die gemeenskap het Maandagmiddag na die polisiestasie opgeruk om die verdagte te siene te kry. Hy is positief deur die ooggetuies geïdentifiseer.
’n Begrafnisdiens is Sondagoggend in die skool se koshuissaal gehou. Green se familie en vriende was glo by tye ontroosbaar.
“Ons kon net die regterkant van haar gesig sien toe ons groet. Die linkerkant van haar gesig was bedek omdat dit glo heeltemal vergruis is,” het Swartz bygevoeg.
Shuphren Ouers, wat oorspronklik van Brandvlei is, het gister vlugtig in die Calvinia-landdroshof verskyn. Hy het na bewering sy eie regsverteenwoordiging aangestel.
“Sy prokureur voer aan dat hy borg moet kry omdat dit sy eerste oortreding is en omdat hy eerlik oor sy werksplek was,” het ’n bron wat die hofverrigtinge bygewoon het, vertel.
Sers. Molefa Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagte sal weer Vrydag 12 Januarie 2024 in die Calvinia-landdroshof vir sy amptelike borgaansoek verskyn.
Die volgende is ‘n skermskoot van ‘n plasing wat Shuphren Ouers in 2020 op sy Facebook-profiel gemaak het:

Bronne: SAPD, Nikolas Swartz





