PRETORIA, GAUTENG. – ’n Ma is ’n 12 maande vonnis opgelê nadat sy die pa van haar seun weerhou het om sy kind te sien. Dit volg nadat sy ’n hofbevel van 2021 en 2022 geminag het toe die pa toestemming gekry het om die seun te sien.
Volgens berigte het die pa, wat in Gauteng woon, hom telkemale na die hof gewend in ’n poging om sy seun te siene te kry en kontak met hom te kon maak. Die ma het hom glo enige toegang en kontak geweier, al het die hof beveel dat hy sy kind op ’n gereelde basis elke tweede naweek mag sien.
Nie die ma of haar prokureur het na die eerste twee hofbevele op korrespondensie van die pa of sy prokureurs gereageer nie. Die ma, wat in Limpopo bly, het steeds maandeliks R15 000 onderhoud vanaf die pa ontvang.
Regter Portia Phahlane het tydens die uitspraak in Pretoria se hooggeregshof gesê die seun is van ’n gesonde verhouding met sy pa weerhou. Sy het ook haar ontevredenheid teenoor die ma en haar regspan se optrede uitgespreek. Die ouderdom van die seun is nie bekend gemaak nie.
Volgens Phahlane is die vonnis gepas vir die optrede van die ma. Daar word nêrens melding gemaak waarom die ma die kind van die pa weerhou het nie.
Bronne: IOL, Times Live, Kaya 959





