WES-KAAP. – ‘n Voertuig het gister die Du Toitskloofpas-pad in die Paarl byster geraak en is oor die kant teen die bergpas af.
Volgens Drakenstein Farm Watch het ‘n plaaslike inwoner gesien toe die voertuig oor die afgrond ry en halfpad teen die berg af tot stilstand kom. Die inwoner het DFW omstreeks 10:00 gekontak.
Soek-en-reddingspanne van DFW Fire & Rescue is na die toneel ontplooi. Inligting is ook aan die munisipale beheersentrum verskaf.
Met vyf noodspanne wat by die toneel opgedaag het, is die bestuurder en sy voertuig, 40 meter na benede, vinnig opgespoor. Hy het nie ernstige beserings opgedoen nie. Digte bosse en plantegroei het die voertuig verhoed om verder na onder te val.
Volgens die bestuurder het hy vir twee vragmotors wat mekaar verbygegaan het, uitgeswaai en beheer verloor.
DFW sê nie alle bestuurders is so gelukkig in soortgelyke situasies nie. Die pad is aan die Paarl se kant 12 km lank en dit neem soms lank om ‘n voertuig op te spoor en nooddienswerkers tot by ‘n voertuig en insittendes te kry. Die spanne is vir hulle vinnige reaksie geprys.





