OOS-KAAP. – Drie verdagtes, tussen die ouderdom van 29 en 47 jaar, sal môre vir beweerde ontvoering en huisroof in die Oos-Londen-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder vir die Valke, is ‘n man (60) op 23 Februarie, omstreeks 06:00, by sy huis in Gonubie, in Oos-Londen ontvoer en gevange gehou. Omstreeks 06:30 dieselfde oggend is inwoners glo by die ontvoerde man se huis deur gewapende rowers van besittings en geld beroof.
Op 27 Februarie het die ontvoerde man se familie glo R160 000 vir sy vrylating betaal, waarna hy by Fort Jackson Shell-vulstasie vrygelaat is.
Drie verdagtes is daarna deur die Valke se ontvoeringstaakspan in hegtenis geneem en R22 000 is teruggevind. King William’s Town se honde-eenheid en blitspatrollie was ook met die operasie betrokke.





