Soektog na Joslin nóóit gestaak, polisieminister sal Saldanhabaai besoek

Lees ook :

Foto's: Primêre Skool Diazville en Lesweene Weene Alexander Facebook-blad

WES-KAAP. – Die polisie se soektog na die vermiste Joslin Smith (6) van Saldanhabaai het nooit gestop nie. Die polisieminister en polisiebestuur lê vandag besoek in die kusdorp af.

Lt.kol. Malcolm Pojie het, nadat hy vroeër die week gesê het die soektog is nie deur die polisie gestaak nie, weer bevestig die soektog na Joslin stu steeds sonder ophou voort.

Pojie sê kommunikasie oor die soektog is gesien en sommige het meriete gehad en ander het ‘n kombinasie van verkeerde inligting, halwe waarhede en misleidende inligting bevat.

“Dit is op hierdie basis wat die polisie hulle toewyding aan die soektog en ondersoek na die vermiste ses jaar oue Joslin, herhaal.”

Pojie verduidelik soos wat tyd verloop sedert ‘n vermiste persoon aangemeld word, verander ‘n ondersoek en word verskillende benaderings gebruik. Met inligting wat ontvang word, word gespesialiseerde hulpmiddele of vermoëns, afhangend van die situasie, gebruik. Die kolonel sê voorts verskeie polisie-eenhede, ander wetstoepassingsagentskappe en baie gemeenskapslede is deel van die ondersoek en werk hard sedert Joslin as vermis aangemeld is.

“Ons verwelkom die hulp van siviele persone in die soektog, maar dit moet behoorlik in terme van die reg gekoördineer wees. As die hoofagentskap in ondersoeke, met ‘n mandaat deur die wet, word die vereiste beginsels van ondersoeke deur die ondersoekers toegepas met die oog daarop om die aangeleentheid hof toe te neem wanneer dit vereis word.”

Pojie verseker elke poging word aangewend om Joslin te vind.

Lirandzu Themba, woordvoerder vir die polisieminister, sê genl. Bheki Cele en die polisiebestuur onder leideing van lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale kommissaris, sal vandag Saldanhabaai besoek om met die gemeenskap te gesels oor vals rapportering met betrekking tot die soektog.

Genl. Cele sal die polisie-afvaardiging lei wat die familie van Joslin gaan besoek en hulle oor die ondersoek en vordering gaan inlig.

Alderman JP Smith sê die werk deur eenhede van die Stad Kaapstad onder leiding van die polisie-ondersoekers het momentum gekry en die ondersoek beweeg vorentoe. Hy het bygevoeg die ondersoekers is entoesiasties om vanoggend met die soektog voort te gaan.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief