KAAPSTAD, WES-KAAP. – ’n Rotteplaag teister inwoners van Claremont in Kaapstad. Die rotte is na bewering afkomstig van ’n oop erf in Belvedereweg.
Volgens inwoners is die verwaarloosde erf ’n bymekaarkomplek vir haweloses en ’n gewilde vullisstortarea. Hulle eis dringende optrede van die Kaapse stadsraad asook die eienaar van die erf, aangesien huise en besighede in die buurt is wat daaronder ly.
Besigheidseienaars en inwoners in daardie area kla glo veral oor die reuk en vlieë wat met die rotteplaag gepaard gaan. Hulle meen die plaag vererger namate die haweloses die plot as ’n ablusie-area gebruik.
Die eienaar het na bewering in 2021 laas die erf probeer beveilig deur slotte en heinings aan te bring. Dit is egter in Oktober 2023 deur betreders verwyder.
Volgens Katherine Christie, wyksraadslid, is prosesse deur die probleemgeboue-eenheid (PMU) van die stad begin om die situasie aan te spreek.
Bronne: IOL, Cape Town ETC





