Die bekroonde digter, Lynthia Julius, se nuwe digbundel, Kinderlê, word Vrydag deur Queillerie vrygestel. Dit is Julius se tweede bundel.
Genderkwessies, swangerskapverlies, erotiek en geestesgesondheid is van die temas wat aangespreek word. Die titel verwys na die naam van ’n monument by Steinkopf in die Noord-Kaap waar kinderuitwissing destyds plaasgevind het.
Gariepafrikaans en Nama-woorde is volop in die digbundel. Gert Vlok Nel sê: “Hierdie moderne skroomlose blik op die harde lewe se skoonheid oorval jou onverwags soos skielik huil”.
Volgens die digter Ronelda Kamfer is Kinderlê ’n offer van teerheid. “Julius besing, bely, breek en berou met dié bundel wat wys waarom sy so ’n belangrike stem is.”
Die bekendstelling van die digbundel is gisteraand by die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley gehou. Nuusflits het só berig oor Julius wat einde 2023 die prestige- Afrikaanse Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs ontvang het.
Bronne: NB-Uitgewers, LitNet, Facebook





