Video vir verwysing weer in berig ingevoeg.
GAUTENG. – Nuusflits het op 4 Maart berig van ‘n vrou wat in Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria om mediese hulp vir ‘n man (28) skree. Die man het in die hospitaal gesterf. Vyf verpleegpersoneellede is intussen as voorsorgmaatreël geskors.
Die gesondheidsdepartement in Gauteng het ‘n verklaring uitgereik waarin die dood van die man en die voorlopige skorsing van die verpleegpersoneel, hangend ‘n ondersoek, bevestig is.
Die voorval het op Sondag 25 Februrie by die ongevalle-afdeling gebeur, te midde van ‘n “I Serve with A Smile” veldtog, om juis personeel se houding asook die gehalte van diens te verbeter.
Nuusflits het soos volg berig:
‘n Video-opname wat deur Gerda Webb en Marissa Meintjies op TikTok en ander sosiale media gedeel is, is glo in Steve Biko- akademiese hospitaal (SBAH) geneem.
In die opname kan gehoor word hoe ‘n vrou skree dat die “man wat besig is om dood te gaan, gehelp moet word en die hospitaalpersoneel eerder op ‘n telefoon besig is.”
Daar kan gesien word hoe ‘n pasiënt ‘n lid van die personeel by ‘n deur uitpluk vir hulp. In dié deel van die video-opname is gesê die man is die volgende dag oorlede.






