MPUMALANGA. – Drie verdagtes is oomblikke nadat hulle van ‘n beweerde huisroof gevlug het, deur die vinnige optrede deur lede van die gemeenskap en sekuriteitspersoneel in Steiltes aangekeer. ‘n Vrou (73) en haar werknemer is glo aangehou en beroof.
Kol. Donald Mdhluli sê die huisroof het Donderdagoggend omstreeks 09:00 in die Steiltes in Nelspruit (Mbombela) plaasgevind. Drie verdagtes het glo ‘n vrou en haar tuinwerker met ‘n mes aangehou en besteel. Die verdagtes is aangekeer terwyl hulle op vlug was.
Volgens inligting het die tuinwerker die vrou van mense wat glo ‘n watermeter wou herstel, gesê. Oomblikke later het die verdagtes die huis betree en hulle met ‘n mes aangehou terwyl geld geëis is. Die verdagtes het die slagoffers se selfone, ‘n skootrekenaar, ‘n onbekende bedrag geld en ook ‘n geweer, pistool en jagmes gesteel nadat hulle die kluissleutels gekry het. Saam beloop die waarde van die items ongeveer R35 000.
Die verdagtes het daarna te voet van die toneel gevlug, waarna sekuriteitsbeamptes daarin geslaag het om een buite die huis met van die gesteelde items by hom, aan te keer. Nog twee van die verdagtes is met behulp van die gemeenskap vasgetrek.
Twee verdagtes wat volgens vermoede die vuurwapens gesteel het, is steeds op vrye voet. Die ondersoek duur voort en die polisie is op hulle spoor.
Enigiemand met inligting van die voorval word versoek om na vore te kom.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die sekuriteitswagte en gemeenskapslede vir die aankeer van die drie verdagtes geprys.





