CRADOCK, OOS-KAAP. – Bergkwagga Nasionale Park het ’n nuwe lid, Dash, by hulle honde-eenheid verwelkom.
Dash, ’n opsporingshond, sal by die hoofhek van die park geplaas word. Hy sal ook sy verskyning by padblokkades in die park maak.
Franklin Farao is as Dash se hanteerder aangestel. Dash is opgelei om versteekte ammunisie en wildleweprodukte in voertuie en bagasie uit te snuffel.
Volgens Wonga Pama, senior veldwagter, is Dash baie vriendelik en vorm ’n goeie span met Zulu, die spoorsnyerhond wat laasjaar in die park verwelkom is.

Bron: South African National Parks





