NOORDWES. – Arthur Khoza (19), Mahlatsi Nkuna (21), en Thato Mosetla (22) is skuldig bevind aan alle aanklagte in die moord op Sam Mbatha (24). Vonnisoplegging sal op 25 Julie in die hooggeregshof, wat in die Ga-Rankuwa-streekhof sit, plaasvind.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sê die aanklagte waarop die drie skuldig bevind is, is dié van roof met verswarende omstandighede, moord, opsetlike saakbeskadiging en regsverydeling.
Die polisie het met hulle ondersoek op Maandag 21 Junie 2021 op bloedvlekke in ‘n huis in Phutha-seksie, naby Klipgat, afgekom. ‘n Byl wat vermoedelik in die pleeg van die moord gebruik is, is ook op die dak van die huis gevind. DNS-toetse het die bloed as dié van Mbatha bevestig.
Mbatha se liggaam is op 17 Junie 2021 in ‘n gebrande Hyundai i20 by ‘n sokkerveld in Ikageng-seksie gevind.
Die drie beskuldigdes is met die moord verbind en in hegtenis geneem. Mosetla het eers sy borgaansoek laat vaar en met aansoek is hy op 7 Julie 2022 borg geweier. Khoza en Nkuna het beide elk borg van R500 ontvang.
Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes, het die skuldigbevinding verwelkom en hoop op ‘n gepaste vonnisoplegging.





