WES-KAAP. – Vandy Fourie (53) is op 28 Maart helder oordag in haar huis in Langleystraat, Parklands, doodgemaak.
AO Joseph Swartbooi sê Table View-polisielede het op ‘n klagte reageer en op Fourie se liggaam afgekom. Sy is op die toneel dood verklaar. Na bewering is Fourie se motor en waardevolle items gesteel.
Die ondersoekbeampte het Saterdag ‘n verdagte vrou (41) en drie verdagte mans, tussen 22 en 44 jaar oud, in Witsand, Atlantis, in hegtenis geneem. Die verdagtes was glo in besit van Fourie se motor en items wat van die misdaadtoneel gesteel is.
Women For Change sê Fourie se vrou kon haar nie opspoor en het die polisie gekontak, waarna haar liggaam gevind is. Sy is met ‘n stomp voorwerp teen die kop getref.
Die verdagtes sal op aanklagte van moord en besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die Kaapstad-landdroshof verskyn.





