POTCHEFSTROOM, NOORDWES. – Die Universiteit van Noordwes se Potchefstroom-kampus het Sondag kontakklasse vir die week opgeskort. Dit volg nadat die reservoirs op die kampus nie voldoende water te midde van die dorp se waterprobleme kon opgaar nie.
’n Vroeëre kommunikasie is Vrydag uitgestuur waarin studente en personeel aangemoedig is om water op en om die kampus spaarsamig te gebruik.
Volgens prof. Daryl Balia, adjunk-vise kanselier van IT en kampussake, is alle akademici versoek om leermateriaal vir die studente aanlyn beskikbaar te stel, aangesien geen kontaksessies gaan plaasvind nie. Personeel wat nie noodsaaklik op kampus is nie, is ook versoek om sover moontlik van die huis af te werk.
Alle gradeplegtigheidseremonies sal volgens die oorspronklike reëlings plaasvind. Die geskeduleerde rugbywedstryd vir die Varsity-beker het gisteraand normaal voortgegaan.
Die universiteit het aangedui hulle sal verdere reëlings bekendmaak sodra die watersituasie verander.
Bron: UNW





