VRYSTAAT. – ‘n Kêrel (20) wat glo sy meisie (15) ontvoer en ‘n losprys geeïs het, is deur die polisie in Selosesha in hegtenis geneem.
Sers. Mahlomola Kareli sê die meisie van Thaba Nchu het glo Sondag gesê sy gaan Phelindaba toe om ‘n werkswinkel oor vroueversorging by te woon. Haar bekommerde ma het omstreeks 20:00 gebel, maar haar dogter se selfoon is nie geantwoord nie.
Maandagoggend omstreeks 07:00 het die ma ‘n oproep van haar dogter se selfoon gekry. Die stem van ‘n man het glo kontant geeïs omdat haar dogter by hom was. Die ma is na die polisiestasie en het ‘n ontvoeringsaak oopgemaak.
Selosesha-GKS het die saak ondersoek en die meisie by die kêrel se huis opgespoor. Die kêrel is vir ontvoering in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die Selosesha-landdroshof verskyn.





