MPUMALANGA. – ‘n Man (22) is van moord op ‘n man (25) aangekla na hy Woensdag in hegtenis geneem is nadat hy vir die gemeenskap op ‘n skool se dak in Ackerville, naby Witbank, weggekruip het.
Kol. Donald Mdhluli sê polisielede het inligting ontvang van ‘n persoon wat omstreeks 18:25 noodlottig met ‘n mes gesteek is. ‘n Man is op die toneel op ‘n dak van ‘n skool opgemerk. As ‘n persoon van belang in ‘n moordsaak is hy gesê om van die dak af te klim. Hy het naderhand afgeklim en vir die polisielede gesê hy vrees vir sy lewe, omdat die gemeenskap hom wou aanval. Daarna is die polisielede na die plek waar die oorledene gelê het, geneem. Die slagoffer wat gesteek is, is op die toneel dood verklaar. Die moordwapen is ook op die toneel gevind.
Die verdagte sal na verwagting Maandag vir moord in die Emalahleni-landdroshof verskyn.





