MPUMALANGA. – ‘n Verdagte is Woensdagoggend omstreeks 01:00 doodgeskiet by ‘n vulstasie in Tweefontein waar daar glo probeer is om ‘n kitsbank met plofstof oop te skiet.
Volgens kol. Donald Mdhluli is twee verdagtes tussen 19 en 21 jaar in hegtenis geneem.
‘n Aantal verdagtes het die vulstasie bestorm en die OTM op die perseel met plofstof geskiet. Hulle het op die polisie, wat vinnig ontbied is, geskiet terwyl hulle probeer vlug het. Die polisie het teruggeskiet en ‘n verdagte noodlottig gewond.
Van die verdagtes kon daarin slaag om te vlug, maar twee verdagtes wat glo in die donker agter die vulstasie weggekruip het, is in hegtenis geneem. Hulle sal aangekla word vir oortreding van die plofstofwet. Die twee is Mosambiekers en die polisie werk saam met die departement van binnelandse sake om vas te stel of hulle wettig in die land is. Hulle sal binnekort in die Kwamhlanga-landdroshof verskyn.
Patroondoppies is op die toneel gevind. Omstandighede van die verdagte se noodlottige sterfte word deur Opod ondersoek. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
Die ondersoek om die ander verdagtes op te spoor, duur voort. Enigiemand met inligting van die ander verdagtes word versoek om na vore te kom.





