MPUMALANGA. – Die polisie op Delmas het Vrydagaand tydens ‘n operasie onwetend op ‘n beoogde kaping afgekom. Twee persone is van ‘n kaping gered en twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Kol. Donald Mdhluli sê die twee verdagtes, gewapen met met ‘n gelisensieerde vuurwapen en windbuks, is omstreeks 18:10 tydens operasie Shanela vasgetrek. Polisielede was besig met patrollies op verskeie paaie toe ‘n Isuzu-bakkie wat vinnig ry, opgemerk is. ‘n Datsun Go-stasiewa was ook in die omgewing. Die voertuie is gestop en deursoek. ‘n Vuurwapen met ammunisie is by een van die insittendes in die Datsun gevind en die windbuks by nog ‘n insittende.
Koeëlgate was op die bakkie waarneembaar. Die polisielede het besef hulle het onwetend op ‘n poging tot ‘n kaping afgekom. Die slagoffers, wat gejaag het om van die verdagtes te probeer wegkom, is van ‘n beoogde kaping gered. ‘n Saak van poging tot kaping is geopen en addisionele klagtes van poging tot moord en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n openbare plek is bygevoeg. Balaklawas wat vir vermomming gebruik is en vuurwapens is gekonsfiskeer.
Die vuurwapens sal vir balistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit moontlik in misdade elders gebruik is. Soos wat die ondersoek voortduur, bestaan die moontlikheid dat nog klagtes bygevoeg kan word.
Die verdagtes verskyn vandag in die Delmas-streekhof.





