LIMPOPO. – ‘n Man (42) is Sondag omstreeks 17:00 by ‘n trouseremonie in Manaileng-seksie in Ga-Masemola doodgeskiet. Nog ‘n man, glo verwant aan hierdie skietery, is ook doodgeskiet.
Kol. Malesela Ledwaba sê vier onbekende verdagtes het by die huwelikseremonie opgedaag en die slagoffer doodgeskiet. Die verdagtes het daarna te voet gevlug en ‘n mannejag is geloods om die verdagtes op te spoor.
Na bewering is die verdagtes deur nog ‘n groep verdagtes gevolg, waartydens nog ‘n onbekende man glo langs ‘n pad in dieselfde area doodgeskiet is.
Die verdagtes is onbekend en die motief vir die twee skietinsidente onbekend. Masemola-polisie het twee sake van moord geopen. Die ondersoek duur voort.
Enigiemand wat met inligting kan help, word versoek om sers. Martin Mogotlane by 065 651 3137 te bel.





