KAAPSTAD, WES-KAAP. – Die stad Kaapstad het onlangs hulle nuwe misdaadsvoorkomingstegnologie bekendgestel. Die ligte vliegtuig, bekend as Eye-in-the-Sky, kan hoëresolusie-beeldmateriaal afneem en sodoende met polisiëring help.
Vanoggend is die stad se Information, surveillance en reconnaissance (ISR)-tegnologie deur middel van ’n opgestelde soek-en-reddingsoperasie bekendgestel.
Die hoop is dat data-insameling in verband met bende-insidente, stropery, gesteelde voertuie, veldbrande en ander kriminele aktiwiteite vinniger sal plaasvind.
Die Cessna 337- ligte vliegtuig het twee sitplekke en sal deur ervare vlieëniers gevlieg word. Die vliegtuig kan hoër as ’n hommeltuig vlieg en is toegerus met infrarooi kameras, wat hitte van vuurwapens wat onlangs afgevuur is, sal registreer, sowel as liggaamshitte in koue water.
Premier Alan Winde sê hy is baie beïndruk met die ISR se misdaadsbevegtingsvermoë. “This is a big step towards smarter policing, where technology is better utilised.”
Volgens burgemeester Geordin Hill-Lewis sal die nuwe tegnologie help om die polisie se reaksietyd te verbeter.
Die ISR kan groot geografiese areas dek en ook langer as hommeltuie in die lug bly.
JP Smith, raadslid vir veiligheid en sekuriteit, sê die tegnologie het hulle onlangs op 30 April gehelp om oor die 3 000 gesteelde krewe te vang. Die hele misdaad is op kamera vasgelê.

Bron: City of Cape Town.





