WES-KAAP, GEORGE. – Minstens een persoon is oorlede en 18 persone beseer, nadat ‘n gebou omstreeks 14:00 in Victoriastraat in George ineengestort het.
Kyk hier onder – ‘n video is deur die George Herald gedeel van die oomblik toe die gebou ineengestort het:
Sers. Christopher Spies sê nooddienste is op die toneel met ‘n soek-en-reddingsoperasie besig.
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die liggaam van ‘n man uit die rommel gehaal is. Agtien persone wat beseer is, is met veelvuldige beserings na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer.
Nog spanne het op die toneel aangesluit om ondersteuning met die soek-en-reddingsoperasie wat voortduur, te bied.
Die spanne word deur ‘n gesamentlike nooddiens-spesialis-operasionele sentrum gekoördineer.
Die munisipaliteit het intussen gevra dat diegene wat met kos en water wil help dit deur Ivystraat na Victoriastraat 79, tot by Delplan Consulting, sal neem.
Premier Alan Winde word deurentyd op hoogte gehou en het ook ondersteuning na die toneel gestuur.

Foto: George Herald

Foto: Georg Herald





