Waarskuwing: die beeldmateriaal kan sensitiewe kykers ontstel.
GRABOUW, WES-KAAP. – Mila, ’n jong hondjie wat in Maart op Grabouw in haglike omstandighede gevind is, is onlangs aangeneem en sterk goed aan.
Besorgde bure het die Rescued Animal Drive-organisasie (R.A.D.) in Maart gebel nadat hulle gesien het hoe Mila vasgeketting in die son in die erf langsaan lê. Sy het erge brandwonde aan haar lyf gehad.
Mila moes die afgelope paar weke veloorplantings kry. Volgens R.A.D. het skenkings die operasie en haar herstelproses moontlik gemaak.
Sy is na ’n maand van intensiewe sorg by die Grabouw-dierekliniek in pleegsorg geplaas waar sy fantasties aangesterk het. R.A.D. sê ’n nuwe hoofstuk het nou vir Mila aangebreek, aangesien sy uiteindelik aangeneem is.
Hulle het ’n video van haar reis gedeel. In die video kan gesien word hoe sy saam met haar nuwe familie speel en in ‘n goeie luim is. Kyk die video hier.
Bronne: Rescued Animal Drive, Facebook





