STILFONTEIN, NOORDWES. – ’n Aardbewing met ’n sterkte van 3.5 het Woensdagoggend net na 10:00 15.6 km vanaf Stilfontein plaasgevind.
Die fokus was op ’n vlak diepte van 5 km onder die grond en kon deur baie mense naby die episentrum op die oppervlak gevoel word.
Volgens die Raad vir Geowetenskap (CGS) is die vlak diepte van die aardbewing hoofsaaklik die rede waarom baie mense dit kon voel.
Storm Report SA se seismoloog is van mening die werklike diepte van die aardbewing is tot 22.46 km aangepas. Volgens hom het die stres wat deur mynbou-aktiwiteite in die gebied veroorsaak word, afwaarts tot in die natuurlike foutlyne beweeg.
Stilfontein is bekend vir aardskuddings in die verlede wat verwant is aan mynboubedrywighede. Geen beserings is aangemeld nie.
Bronne: CGS, EMSC, Storm Report SA





