LIMPOPO. – Twee verdagtes, wat ‘n vrou Saterdag in haar huis op die plaas Nooitgedacht in Northam oorval en met verkragting gedreig het, verskyn vandag in die Northam-landdroshof.
Kol. Malesela Ledwaba sê die slagoffer het volgens inligting geslaap. Al die deure was gesluit toe sy voetstappe gehoor het wat haar slaapkamer nader. Sy het haar tuinwerker herken wat glo geld van haar geëis het. Hy is na bewering na buite om met nog iemand te praat en het met ‘n byl, mes en ‘n skuifsleutel teruggekeer. Hy het glo gedreig om die slagoffer te verkrag indien sy hom nie betaal nie. Die verdagtes het met drie skootrekenaars, ‘n tablet en twee selfone van die toneel gevlug.
Die polisie is ontbied en daar is geslaag om beide die verdagtes, 32 en 35 jaar, op te spoor en in hegtenis te neem. Van die gesteelde items is teruggekry.
Die verdagtes verskyn op aanklagte van huisroof en poging tot verkragting in die hof.
Die ondersoek duur voort.





