KWAZULU-NATAL. – Twee polisiebeamptes van die Umbumbulu-polisiekantoor is Vrydag omstreeks 11:00 tydens roetinepatrollie deur vier verdagtes aangeval en van ‘n polisievoertuig en polisievuurwapens beroof. ‘n Verdagte is omstreeks 16:30 deur die polisie tydens ‘n skietery noodlottig gewond.
Brig. Jay Naicker sê die polisiebeamptes het ‘n verdagte voertuig met vier insittendes gestop. Tydens deursoeking is die polisielede oorval. Die verdagtes het die lede van vuurwapens en die polisievoertuig se sleutel beroof. Daarna het die verdagtes met hul eie sowel as die polisievoertuig gevlug.
Wetstoepassingsowerhede is dadelik in kennis gestel. Die verdagtes is in die omgewing van die misdaad opgemerk. ‘n Jaagtog het ontstaan, waarna die verdagtes beheer oor die polisievoertuig verloor en dit gerol het. Die verdagtes het verder met hulle eie voertuig gevlug.
Nadat ‘n volskaalse soektog geloods is, is een van die verdagtes in ‘n suikerrietplantasie langs Eston opgespoor. ‘n Oor-en-weer-skietery het ontstaan en die verdagte is noodlottig gewond.
Naicker sê een van die polisievuurwapens is by die oorlede verdagte gevind.
Die Umbumbulu-polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof. Die soektog na die ander drie verdagtes duur voort.





